
Meer as 20 000 wilde honde kan dié tyd volgende jaar oor die oostelike gedeeltes van Australië swerf nadat sowat 2 000 tewe nou in die noordelike state kleintjies gekry het.
Karen Huskisson, ’n grondeienaar van Queensland, het hierdie skokkende beraming op ’n konferensie in Adelaide gemaak waar sy voorspraak gemaak het vir ’n proaktiewe benadering ten opsigte van die beheer van wilde honde.
Uit eie ervaring weet Huskisson watter impak wilde honde op ’n boer se lewensbestaan kan hê omdat sy so ’n nagmerrie op haar Wattle Downs-skaapplaas wes van Tara ervaar het. Haar familie boer al meer as 100 jaar op Wattle Downs. Ná 80 jaar sonder roofdierbedrywighede het wilde honde egter hul opwagting gemaak omdat ander grondeienaars beheermaatreëls agterweë gelaat het. “Ons was omring van beesboere wat gedink het daar is geen wilde honde nie. Ons is aan ons eie genade oorgelaat om lokvalle te stel en te probeer om die honde onder beheer te bring,” vertel sy.
In een jaar het hulle 300 teelooie weens wilde honde verloor, wat die hart uit die genetiese kern geruk het, sê Huskisson, voorsitter van die Queensland Stud Merino Breeders Association. Wat die waarde van die wol en karkasse betref, verteenwoordig die uitwerking hiervan ’n geldelike verlies van $120 000 oor ’n tydperk van vyf jaar, sê sy. “Voeg hierby die lamproduksie wat verlore is – sowat 1 500 lammers oor vyf jaar – en dis 'n verlies van $180 000 wat die totale verlies op $300 000 laat neerkom. En dis net vir een trop skape en behels nie alles wat ons verloor het nie.”
Huskisson het agt jaar gelede die roofdierprobleem gepak deur vir beskerming in Maremma-honde te belê, en sedertdien het hulle geen las meer van wilde honde nie. “Tesame met ons plaagbeheergroep en gekoördineerde lokvalprogramme het ons die wilde honde nou onder beheer.”
Mense soos Greg Mifsud, een van die konferensiegangers, glo dat wilde honde die enigste roofdiere is wat boere uit die bedryf kan dwing. “In 1990 was daar sowat 19 miljoen skape in Queensland en nou is daar net 3,3 miljoen,” het Mifsud gesê. “Wilde honde kos die lewendehawe-bedryf in Queensland 'n verstommende $67 miljoen jaarliks. Maar boere toon ’n gebrek aan gewilligheid om hul samewerking te gee vir bestuursprogramme om wilde honde te beheer. So het die honde hulle dus hervestig in gebiede waar hulle eens onder beheer was en hulle het na talle gebiede getrek waar hulle eers uitgeroei is.”
Wilde honde swerf rond, en terwyl boerderypraktyke verander, sal hulle daarby aanpas. Volgens Mifsud kan die aantal wilde honde beheer word, maar boere moet saam met hul bure, regsgebiede binne state en regeringsliggame werk om beter bestuursprogramme vir wilde honde op te stel as wat nou bestaan.