
Enige skadebedrag wat ’n boer van Cullinan eis omdat 10 van sy beeste weens snotsiekte gevrek het, moet deur twee wildeienaars aan hom uitbetaal word.
Dít is een van die bevindinge van die Hooggeregshof in Pretoria, ná mnr. André Strang die saak aanhangig gemaak het.
Luidens ’n berig in Beeld het blouwildebeeste in die besit van mnr. Hendrik Willem Pelser en Madidaba Game Ranch dié siekte onder lede gehad en na Strang se beeste oorgedra. Hy het sy kudde deur middel van kunsmatige inseminasie opgebou.
Waarskuwing
Strang se eiendom word begrens deur die verweerders in die saak se eiendom. Die eerste wildbeeste is in 2003 op die plaas gevestig. Strang het gevrees dat sy kudde snotsiekte sou kry as die wildebeeste teenaan sy plaas gevestig word en het Pelser daarteen gemaan. Van die blouwildebeeste is volgens die hof in 2007 aangrensend aan Strang se plaas gevestig.
In 2008 het Strang twee beeste verloor en ’n veearts het die vrektes aan snotsiekte toegeskryf. Strang het in 2009 ’n vergadering met Pelser gehad, wat toe R80 000 aan hom uitbetaal het.
Op dié vergadering is ook ooreengekom dat die wildebeeste geskuif sou word om verdere besmetting te voorkom. Strang het in Junie 2009 nóg beeste verloor, en die laaste wildebeeste is eers in November 2009 geskuif. Ná die vrektes in Junie 2009 het Strang hom tot ’n hof gewend.
Die hof het ook bevind dat die verskuiwing van die wildebeeste tot teenaan Strang se plaas onregmatig was.
Bron: Beeld