
Dit lyk of die weer ’n beduidende rol kan speel in die plaaslike wildbedryf. Mnr. Peter Oberem, voorsitter van Wildbedryf Suid-Afrika, sê die voorspelling op mediumtermyn dui op hoë temperature en minder reën vir streke waar in Suid-Afrika met wild geboer word, wat die dravermoë van grond kan verswak.
Hy voorspel dat meer diere op veilings aangebied gaan word. Dit kan pryse van veral gewone vlaktewildsoorte laer laat neig. Oberem wys egter daarop dat ’n mens al hoe meer sien hoe twee markte binne die bedryf ontwikkel. Aan die een kant is daar die kopers van wild vir ekotoerisme en jagdoeleindes en dan is daar die telers van skaars wild wat voortdurend beter teeldiere wil koop.
Oberem meen in die telersmark gaan pryse steeds opwaarts beur. Kopers se patrone verander en dit gaan al hoe moeiliker word om toppryse vir diere te verdien. “Horinglengte of ’n kleurvariasie alleen gaan nie meer genoeg wees om rekordpryse te behaal nie. Daar gaan al hoe meer druk op verkopers wees om te bewys dat diere steeds oor genetiese eienskappe eie aan hul soort beskik.”
Hy sê wild wat vanjaar rekordpryse gaan haal, sal geharde diere wees wat bosluise, siektesen droogte kan verdra en sterk moedereienskappe het.Wat diersoorte betref, meen hy koedoes gaan vanjaar baie goeie pryse behaal. Hy stem saam met mnr. Niel Swart van Vleissentraal Bosveld wat voorspel dat daar ’n sterk vraag gaan wees na swart rooibokramme en goue wildebeesbulle. Swart sê in die afgelope wildhandelseisoen is baie gewone rooibokooie en blouwildebeeskoeie aangekoop is.
Mnr. Phlippie Cloete van die eenheid vir omgewingswetenskap en ontwikkeling aan die Noordwes-Universiteit sê die vooruitsigte op mediumtermyn vir die teel van duur wild is gunstig. In Absa se landbouvooruitskouing vir vanjaar sê hy die vraag na skaars wild en kleurvariasies sal waarskynlik aanhou groei vanweë die verbetering van die finansiële prestasie van wildboerderypraktyke. Teen die agtergrond van die kosteknyptang waarin tradisionele vee- en saaiboere hulle bevind, kan wild boere in staat stel om hul boerderye te diversifiseer om die teling van duur diersoorte in te sluit.
Cloete voeg by dat die vooruitsig van voortdurende “buitengewone finansiële prestasie” korporatiewe beleggings sal aanhou lok van plaaslike sowel as internasionale beleggers. Hy meen dat die wildbedryf, in finansiële terme uitgedruk, in ’n middel-laatbulmark verkeer.