Sommige wildbewaarders in die private sektor moet soms wildstropers met pepersproei bestry weens die sloerdery met vuurwapenlisensies, sê mnr. Pelham Jones, voorsitter van die Private Renostereienaars-vereniging (PROA).
Tydens die Minister van Waterwese en Omgewingsake se renosterberaad het Jones opgemerk dat private eienaars van renosters groot uitdagings ervaar omdat lisensies waarvoor hulle aansoek gedoen het, nie uitgereik word nie.
“Baie voldoende opgeleide bewaarders op wildplase moet wildstropers wat vuurwapens in hulle besit het met knuppels, pepersproei of boeie aanvat. Die probleem wat bewaarders dus ervaar is: Hulle weet as hulle in die veld inbeweeg, gaan hulle op stropers met wapens afkom en hulle gaan nie in staat wees om hulle werk te kan doen nie en hul lewens is in gevaar,” vertel Jones.
Sloerdery sedert 2007
Jones sê hy het in Julie 2007 reeds aansoek gedoen vir lisensies vir vuurwapens vir sy maatskappy sodat hulle dit aan bevoegde bewaarders kan gee, maar tot op datum het hulle nog nie die lisensies ontvang nie. Hy kan nie dié sloerdery verstaan nie, aangesien al sy bewaarders akkreditasie van die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) ontvang het dat hulle wel vuurwapens mag hanteer.
Volgens Jones moet die proses rondom die magtiging van ‘n individu om ‘n vuurwapen te mag hanteer ook bespoedig word, om grondeienaars en bewaarders in staat te stel om hul diere en hulself te beskerm.
Die PROA verteenwoordig 400 private eienaars van renosters wat sowat 25% van die land se renostergetalle op hulle grond aanhou.
Sloerdery het nie ‘n invloed
Intussen het genl. Simon Maphia van die SAPD en Valke opgemerk dat hy bewus is van die sloerdery met die uitreik van vuurwapenlisensies, en dat dit deel is van die sloerdery in die nasionale stelsel rakende die uitreiking van vuurwapenlisensies.
Hy’t gesê die situasie geniet sy aandag.
6 Oktober 2010