Twee wildstropers is verlede week deur bewaarders in die Kruger Nasionale Park (KNP) geskiet, terwyl drie ander gevang is, sê Suid-Afrikaanse Nasionale Parke (Sanparke).
Luidens ‘n verklaring is een van die stropers wat Woensdag (13 Oktober) geskiet is, dood, terwyl die ander in ‘n hospitaal behandel word. Dr. David Mabunda, hoof uitvoerende beampte van Sanparke, sê hoewel hy jammer is oor die man se dood, is hy bly vir die arrestasies.
Hy sê die bewaarders het tydens ‘n roetinepatrollie op die stropers afgekom, en ‘n skietgeveg het uitgebreek. Die een stroper is op die toneel dood, terwyl die ander in ‘n plaaslike hospitaal gevind is, waarheen hy gegaan het om behandeling vir sy beserings te kry.
Wees gewaarsku
“Dit is tyd dat dié wat dink dat hulle ons parke kan binnekom, weerlose diere kan doodmaak en daarmee kan wegkom, besef dat ons ernstig is as ons sê ons gaan dié onaanvaarbare praktyk stopsit,” merk Mabunda op.
Sedert die begin van die jaar is 232 renosters in die land vir hul horings doodgemaak, waarvan 104 van die KNP was. Terselfdertyd is 119 vermeende wildstropers in hegtenis geneem, waaronder 45 in die KNP vasgetrek is.
Nog een aangekeer, bewaarders beseer
Luidens ‘n tweede verklaring sê Sanparke nog ‘n vermeende wildstroper is Donderdagmiddag (14 Oktober) naby die Krokodilbrug in die KNP aangekeer. Hy was deel van ‘n groep van drie mans wat die KNP van Mosambiek af binnegekom het.
Kort nadat die mans die park binnegekom het, het die bewaarders op hulle afgekom. Een van die mans is gearresteer met ‘n jaggeweer in sy besit. Die ander twee verdagtes het egter op die vlug geslaan.
Twee van die bewaarders is tydens die voorval beseer toe ‘n renoster wag glo deur die stropers gejag is, tussen die bewaarders ingehardloop het. Die bewaarders se beserings is nie lewensgevaarlik nie en hulle word tans behandel.
18 Oktober 2010