
'n Goeie werksverhouding tussen Limpopo-polisie se veediefstaleenheid en boere is besig om vrugte af te werp, sê mnr. Willem van Jaarsveld van die Limpopo-landbouforum.
"Ons het groot waardering vir die manier waarop die polisie voorkomend optree om wild- en veediefstal hok te slaan," sê hy.
Van Jaarsveld sê volgens sy kennis is nie 'n enkele renoster in Maart in Limpopo gestroop nie. Etlike vermeende stropers is wel in hegtenis geneem voordat hulle renosters kon doodmaak. Kol. Alpheus Mokale van die provinsiale veediefstal-eenheid het dié sukses bevestig.
Sukses
Dié eenheid, in samewerking met reserviste-groepe soos die Heritage Protection Group en plaaswagstelsels, het die afgelope vier maande renosterhoring-sindikate met groot sukses beveg.
In Januarie is 'n bekende sakeman van Lephalale in hegtenis geneem nadat die liggaamsdele en horings van sewe renosters in sy besit gekry is. Kort voor dit is drie mans van Louis Trichardt gearresteer nadat renosterhorings in hulle besit gekry is.
Talle vermeende stropers is ook gearresteer met onwettige jaggewere, kapmesse, byle en sae in hul besit terwyl hulle onwettig grond betree het waar renosters aangehou word.