
Uiteenlopende reaksie is ontvang op die voorgestelde wysigings van die Wet op die Veiligheid van Vleis (Wet 40 van 2000) om wildvleis by dié regulasies in te sluit.
Mnr. Piet Neethling, voorsitter van Game SA op Graaff-Reinet, het die verandering verwelkom. Hy sê die belangrikste aspek sal die vereiste wees dat ’n onafhanklike gekwalifiseerde vleisinspekteur die karkasse van wild wat geoes is, sal nagaan vóórdat dit in die voedselketting kom om sodoende voedselveiligheid te verseker.
“Wat nou gebeur is nadat wild op plase geskiet is, die karkas op ’n bakkie gelaai en by plattelandse slaghuise vir verwerking afgelaai word, sonder die nodige inspeksies. Ek het egter al wildvleis en -wors by supermarkte en slaghuise met twyfelagtige smaak gekoop omdat die inspeksies nie gedoen is nie. Dit gee die hele wildbedryf ’n slegte naam.”
Onafhanklike inspeksies
Neethling sê onafhanklike inspeksies word reeds jare gedoen by die land se ses geakkrediteerde wild-abattoirs wat lidmaatskap van Game SA het. Dié reëlings sal nie boere en jagters raak wat wild vir die pot skiet nie, maar net in gevalle waar wild geoes word vir verkope aan die publiek. “Plattelandse abattoirs kan by so ’n reëlings baat, aangesien dieselfde inspekteurs wat hulle reeds gebruik net opgelei kan word om ook wild te inspekteer.”
Mnr. Arthur Rudman van Blaauwkrantz-Safaris by Uitenhage, wat verlede jaar as Wildboer van die Jaar aangewys is, sê geen wildboer wat vleis op die plaas verwerk, sal homself in die voet skiet om swak gehalte wildsvleis aan die publiek te verkoop nie. “Indien die nuwe regulasies aanvaar word, moet dit met omsigtigheid toegepas word om nie mededinging in die mark te beperk word nie. Dit sou ideaal wees as wildboere hulle eie werknemers as wildinspekteurs kan laat oplei.”
EU se inspeksie
Neethling sê ’n afvaardiging van die Europese Unie se inspektoraat vir voedselveiligheid sal in Februarie ál die geakkrediteerde uitvoer-aanlegte van Game SA besoek om die residu-moniteringsprogram vir volstruisvleis en wild te oudit. In Mei sal nóg ’n inspeksiespan van die EU die bek-en-klouseer-beheermaatreëls kom moniteer.
Die sluitingsdatum om kommentaar op die voorgestelde veranderinge aan die Wet op die Veiligheid van Vleis te lewer was reeds op 4 Desember 2016.