
Die produksie van wildsvleis kan 'n belangrike rol speel om Zimbabwe se vinnig groeiende bevolking te voed, maar politieke woelinge strem die wildbedryf, het mnr. Nick La Grange, voorsitter van Zimbabwe se natuurlewevereniging, op die negende internasionale wildboersimposium in Windhoek gesê.
Die land se bevolking groei teen 3% per jaar, wat 500 000 bykomende monde per jaar beteken wat gevoed moet word. “Die wildbedryf het groot potensiaal vir die produksie van voedsel en om geld met jag te verdien, maar politieke woelinge laat dit nie toe nie. In Zimbabwe speel politiek ‘n rol in alles en totdat dit verander, kan ons nie vorentoe beweeg nie,” het hy gesê.
Boonop het die dood van Cecil die leeu baie ongunstige publisiteit veroorsaak en ruimte verskaf aan mense wat teen jag gekant is, om hul saak te versterk. Die beweerde poging om Zambiese swartwitpense vanaf Zimbabwe na Suid-Afrika te smokkel, was nóg slegte publisiteit.
Die oppervlakte waarop met wild geboer word, krimp in Zimbabwe, terwyl vee en mense toeneem op plase.
* Die simposium duur van 12 tot 16 September.