
Wildbedryf SA (WRSA) verwag eersdaags nuwe regulasies oor abattoirs wat dit vir wildboere moontlik sal maak om wild wettig vir menslike gebruik op hul plase te oes en te slag.
Ingevolge bestaande wetgewing moet by elke abattoir altyd ’n vleisinspekteur van die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye aan diens wees. Dit maak dit byna onmoontlik vir klein, mobiele abattoirs wat net vir ’n paar dae op ’n wildsplaas werk, om wettig te funksioneer.
Dr. Peter Oberem, voorsitter van WRSA, het gesê dat die departement nou bereid is om boere toe te laat om van hul werkers as karkas-inspekteurs op te lei.
Eerste reeks inspeksies
Sulke inspekteurs kan dan die eerste reeks inspeksies tydens die slagproses waarneem, voordat vleis na groter verwerkingsaanlegte verskuif word waar dit die moeite werd sal wees om volwaardige vleisinspekteurs te stasioneer.
Oberem sê wildsvleis kan ’n belangrike bydrae tot voedselsekerheid lewer, veral in Afrika, waar die grootste bevolkingstoename ter wêreld in die volgende 30 jaar verwag word.