
Hy het op Vrystaat Landbou se jaarkongres in Bloemfontein gesê daar is berigte dat sommige voerkrale weens kwarantynmaatreëls met derduisende speenkalwers sit wat nie verskuif kan word nie. Die binnelandse prys is tot ’n groot mate gestut deur die feit dat 3 000 ton tot 4 000 ton vleis per maand, hoofsaaklik uit voerkrale, na die uitvoermark gaan.
“Dié uitvoer het ons veeboere se basse gered tot ’n mate, maar as daardie vleis nie uitgevoer kan word nie, moet dit binnelands verkoop word, waar verbruikers onder druk is en pryse laer is.”
Sy waarskuwing kom te midde van groot kommer wat op die kongres uitgespreek is deur Vrystaatse boere oor die toenemende berigte van positiewe gevalle van bek-en-klouseer wat aangemeld word in provinsies buite die beheersone. Hulle het gevra dat die organisasie dringend uitvind wat gedoen kan word om die verspreiding te bekamp.
Perfekte storm
Willemse sê die intensiewe veebedryf is op die oomblik in ’n perfekte storm vasgevang, met voerkoste, voerkrale se belangrikste inset, wat in die afgelope twee jaar met gemiddeld 51% gestyg het.
“Gegewe hierdie hoë produksiekoste bestaan die risiko dat speenkalfpryse kan daal om die intensiewe voermark se somme te maak klop, veral as daar ’n bottelnek by die voerkrale kom weens ’n moontlike uitvoerverbod.”
Die ander moontlike gevolg is dat as dit te duur word om speenkalwers af te rond, meer diere op die veld kan loop totdat hulle bemark word, sê Willemse.
Hy het boere aangeraai om te midde van die huidige ekonomiese risiko’s hul kontantvloei en veral uitgawes versigtig te bestuur. “Hoe hoër die rentekoerse styg, hoe moeiliker gaan dit word om geld te leen.”
Daarom moet boere ook vroegtydig aansoek doen om finansiering. “Dis ’n moeilike omgewing waarbinne julle moet geld leen en banke is besig om die risiko te verskuif.”