Alternatiewe energie het onlangs ’n hupstoot gekry met die bekendstelling van Suid-Afrika se eerste geverifieerde, numeriese windatlas.
Die atlas vorm deel van ’n projek ter waarde van R22 miljoen wat oor drie jaar sal geskied en deur die Departement van Energie, die Suid-Afrikaanse Windenergieprogram van die Verenigde Nasies en die Deense ambassade gefinansier is.
Die atlas verskaf inligting wat veral ontwikkelaars en beleggers sal help om geskikte gebiede vir die ontwikkeling van windplase te identifiseer. Die doel is dat daar teen 2030 altesame 42% van Suid-Afrika se energie deur herwinbare bronne verskaf word, waarvan windenergie 20% behoort uit te maak.
Sover verskaf die atlas net inligting oor die Wes-, Noord- en Suid-Kaap aangesien dié provinsies die hoogste potensiaal vir die ontwikkeling van windenergie het.
Mnr. Barry Bredenkamp van die Suid-Afrikaanse Nasionale Energie-ontwikkelingsinstituut voorsien egter dat soortgelyke inligting binne die volgende vyf jaar vir die ander provinsies beskikbaar sal wees.
Finansiële voordeel vir boere
Bredenkamp meen dat die atlas veral vir boere ’n finansiële hupstoot kan gee, aangesien die meeste gebiede wat sover vir ontwikkeling geïdentifiseer is op plase lê. Die windplase behoort nie ’n ongunstige impak op produksie te hê nie.
“Dit sal vir eers te duur wees vir boere om self groot turbines op te rig en energie aan Eskom te verkoop, maar boere kan die inligting gebruik om met windenergiemaatskappye te onderhandel,” het hy voorgestel.
Die moontlikheid om self energie op te wek mag dalk beter word soos wat meer windturbines plaaslik vervaardig word.”
Die data van die windatlas is hier verniet beskikbaar. Die Departement van Energie voorsien dat dit teen 2020 amper dieselfde gaan kos om windenergie te vervaardig as energie van steenkool of kernkrag.
14 Maart 2012