
As ’n ding werk, moet jy hom nie breek nie. Gaan kyk eerder waar daar haakplekke is en waar verbetering aangebring kan word.
Mnr. Alan Winde, nuwe minister van landbou, ekonomiese ontwikkeling en toerisme in die Wes-Kaap, wil voortbou op die werk wat die afgelope vyf jaar deur sy voorganger, mnr. Gerrit van Rensburg, begin is. Die landbou is by die ekonomiese portefeulje ingesluit nadat dit voorheen as die Wes-Kaapse departement van landbou en landelike ontwikkeling bekend gestaan het.
Winde het reeds geleenthede geïdentifiseer om aan te werk. “Ons kan meer mededingend wees met die verwerking van landbouprodukte. Ons moet na die kleiner dorpies uitreik. Dis die landbou wat hulle aan die gang hou.”
“ ’n Leidende rol kan in die toerisme, olie- en gasbedryf, die finansiering- en die kleinhandelaarsektor gespeel word. Al die hoofkantore is hier in die Kaap. Ons moet wakkerslaap. Kyk net wat het gebeur: Nigerië het ons land verbygesteek as die vasteland se grootste ekonomie.”
Winde is dankbaar dat hy ’n goeie span van Van Rensburg geërf het. “As daar iets is wat nie werk nie, moet die span dit nou aanmeld sodat ons kan weet wat voorrang moet kry en dit onmiddellik kan regmaak.” Hy wil ook self gaan kyk wat in die landbou aangaan.