
’n Laboratorium word in Windhoek toegerus om sekere soorte entstowwe te vervaardig om dié land minder afhanklik van ingevoerde veeartsenykundige middels te maak.
Me. Dagmar Honsbein, hoofbestuurder van die landboumaatskappy Agra ProVision, het gesê by voltooiing sal die laboratorium in staat wees om monsters te ontleed en diagnoses te maak sodat pasgemaakte entstowwe op aanvraag vir boere vervaardig kan word.
Die maatskappy se veearts was reeds vir opleiding in Suid-Afrika en hulle is besig om die nodige toerusting aan te skaf. ’n Ander plaaslike laboratorium kan net beperkte dienste lewer en indien die grens tussen Suid-Afrika en Namibië weer “toegemaak word”, kan ’n ernstige tekort ontstaan. Daarom tree Agra pro-aktief op.
Sy het aan Landbouweekblad gesê die oprigting van die laboratorium is reeds ver gevorder en vervaardiging kan hopelik in Julie 2015 begin. Hulle sal nie hul eie entstowwe kan ontwerp nie, maar bepaalde entstowwe vir sekere stamme van siektes kan saamstel, onder meer vir die bestryding van spons-, gal- en lamsiekte.