
Besproeiingsboere sal minstens drie weke moet wag voordat besproeiing weer normaal sal wees nadat ’n kanaal uit die Clanwilliam-dam aan die westelike oewer van die Olifantsrivier op 5 Januarie gebreek het.
Sowat sowat 300 tafel- en wyndruifprodusente, asook tamatie- en ander kontantgewas-produsente is sonder water gelaat.
Produsente ontvang egter reeds van Dinsdag (13 Januarie) 50% van hul normale besproeiingswater, sê mnr. Johan Matthee, uitvoerende hoof van die Laer Olifantsrivier Waterverbruikersvereniging.
“Spanne met trekkers en grondverskuiwingswerktuie werk tans 24 uur per dag om die kanaal te herstel, en die finale koste gaan waarskynlik meer as R5 miljoen beloop,” sê hy.
Mnr. Johan Louw, voorsitter van die Laer Olifantsrivier Watergebruikersvereniging, sê sowat 6 000 ha besproeiingsgrond, wat wyn- en tafeldruiwe, tamaties en ander kontantgewasse bevat, word deur die kanaalbreuk geraak.
Wat die situasie vererger, is die geweldige hitte wat die gebied hierdie tyd van die jaar ondervind – ’n kritiese besproeiingstydperk wanneer boere maksimum besproeiingswater benodig. Uitermate hoë temperature word reeds ondervind.
Louw sê in die stadium is dit onmoontlik om alreeds ’n skadebepaling te doen. “Hoewel dit baie help om 50% van die normale besproeiingswater te ontvang, gaan daar wel redelike skade gely word. Van die wingerde het reeds begin om, behalwe blare, ook druiwetrosse af te speen weens die watertekort.” Veral in die Lutzvillegebied loop wingerde erg deur.
Matthee sê boere met kontantgewasse is eerste gehelp met water wat om die breuk herlei is, omdat die krisis hulle die ergste raak.
Wingerdboere is egter ook baie bekommerd omdat nie ten volle besproei kan word nie, permanente skade aan druiwe-oeste aangerig kan word. Sowat ’n halwe hektaar wingerd het toegespoel toe die kanaal gebreek het.
Mnr. Gideon van Zyl, ’n boer van die plaas Wilgenhof by Lutzville, meen ’n kwelling is die feit dat geen geldelike hulp van die Regering ontvang word nie. Twee jaar gelede het ’n kanaalbreuk R3 miljoen se skade veroorsaak, sê. Dit is die Regering se plig om met onderhoudswerk aan die kanaal te help, “want die hele streek se ekonomie hang daarvan af”. In 2014 is R12 miljoen aan onderhoud aan 260km van die kanaal spandeer, en geen finansiële hulp is ontvang nie.
Matthee sê die huidige breuk is die ergste wat tot dusver op een slag voorgekom het. In 2010 het vyf breuke in een nag voorgekom na ’n reënstorm laer af in die opvangsgebied van die Olifantsrivier. Klik op die foto's hieonder om dit te vergroot.
Die besproeiingskanaal uit die Clanwilliamdam wat vroeg in Januarie gebreek het. Dit sal meer as R5 miljoen kos om die kanaal weer te herstel, en herstelwerk sal na verwagting nog drie weke duur. Foto: Gert Engelbrecht, Vinpro
Sowat ’n halwe hektaar wingerd wat oorspoel is nadat die besproeiingskanaal gebreek en water daaruit gestroom het. Besproeiing van sowat 6 000ha se wingerd en kontantgewasse word deur die breking geraak. Foto: Gert Engelbrecht, Vinpro
Pype word gebruik om die water om die bebreekte gedeelte te lei. Foto: Gert Engelbrecht, Vinpro