
Mnr. Senzeni Zokwana, Minister van Landbou, Bosbou en Visserye, sukkel om sy beeste in die landelike Oos-Kaap te verkoop.
'n Oproep dat sy departement beter met dié van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming moet koördineer om omvattende landelike ontwikkeling te verbeter, het van mnr. Mandla Mandela, ANC-LP, gekom.
Mandela het in die Parlement gesê een van die uitdagings is om gemeenskappe te kry om hulle denke te vernuwe sodat hulle hul vee in lyn met markverwagtinge kan bring.
"Ek sit met die ou mense in my gemeenskap en sien hoe hulle met trots na hulle vee kyk. Wanneer hulle na die vee verwys sal dit altyd aan ’n troue, besnydenis of ander geleentheid verbind word – niks markverwant nie. Vee van een en ’n half en twee jaar word as prima vleis aan die slagplaas verkoop.”
Die skema vir die verbetering van vee, Kaonafatso ya Dikgomo, moet beter in landelik gebiede toegepas word en afsetpunte vir die verkoop van vee moet tot stand gebring word, het Mandela gesê. Zokwana het saamgestem dat werk hiervan gemaak moet word. "Ek is ook van die platteland en daar verkoop jy jou beeste deur maar te wag vir iemand om verby te kom om dit te koop." Hy het 36 beeste.
"Dit is nou winter en ek kan met sekerheid sê dat heelwat mense se beeste sal vrek. Dié met geld wag totdat die beeste amper nie meer kan loop nie, dan koop hulle dit spotgoedkoop en sit hulle in 'n voerkraal."
Vroeër vanjaar het ’n herrie om Zokwana se kop losgebars toe dit aan die lig gekom het dat hy sy beeswagter net R26 per dag betaal het. Zokwana het hierna sy 21-jarige beeswagter R2 400 ‘n maand, die wetlike voorgekrewe minimumloon, begin betaal.
Luidens ’n berig in die Daily Dispatch het me. Winnie Mandela, aangedui dat sy die Qunu-huis van oud-pres. Nelson Mandela graag wil besit sodat sy na Madiba se beeste kan omsien. Dié beeste was nie in n goeie toestand nie, en die owerheid het ingespring om die diere te hulp te snel, deur voer af te laai en veeartse het die beeste ondersoek.