
Die ANC-regering en vakbonde moet begin waardering kry vir boere se rol as verskaffers van voedsel en skeppers van werk, sê mnr. Rabelani Dagada, ’n ekonoom van die Wits-sakeskool.
Hy het aan Landbouweekblad gesê geen produktiewe wit boer behoort van sy grond ontneem te word ter wille van bemagtiging nie. “Die Regering het meer as genoeg grond waarop nuwe boere, met ervare boere se hulp, suksesvol gevestig kan word. Die Regering moet net ’n behoorlike opname doen oor watter grond hy besit.
Hy sê in ’n valse prentjie wat die ANC-regering voorhou, word wit boere beskryf as diewe wat grond gesteel het wat regmatig aan die inheemse mense van die land behoort. “Al het hierdie boere by die apartheidstelsel baat gevind, is dit oneerlik om hulle die skuld vir die Wet op Naturelle- grondbesit van 1913 te gee – hulle was toe nog nie gebore nie.”
Volgens hom laat dit hom dink aan die gesegde dat as ’n mens ’n leuen genoeg herhaal, jy dit later self begin glo. “Dit is presies wat in Zimbabwe gebeur het. Daardie land se regering en Zanu PF se propaganda het die indruk gewek dat wit boere daar alle landbougrond besit het. Dit was nie waar nie. Wit boere het net sowat 20% van die grond besit.”
Die regering daar het wit boere ook voorgehou as die oorsaak van armoede onder swart mense. Volgens hom was dit ook nie waar nie. Daar was ook suksesvolle swart boere, maar hul betrokkenheid by die landbou was ontwrig toe die beslaglegging op grond die hele landbou-waardeketting en landboubesighede vernietig het. Die grondhervormingsproses het armoede vererger.
Dagada sê dit is die Regering se swak openbare beleid en korrupsie wat daartoe lei dat armoede in Suid-Afrika ook toeneem. “Dit is onregverdig om wit boere die skuld te gee vir die wanbestuur met restitusie. Die skuld lê by die Regering se swak projekbestuur.”
Die Regering het versuim om ’n plaaslike ekonomiese ontwikkelingsraamwerk (LED) te ontwerp wat die begunstigdes kon help om die grond ekonomies te benut.
Dagada beraam sowat 10 miljoen mense kon al deur grondhervorming bemagtig gewees het as daar ’n behoorlike raamwerk was en die grond ekonomies benut was.
Dagada meen as Suid-Afrikaners ernstig is om die land op die wenpad te plaas, moet beleid geskep word wat dit moontlik maak vir die “boer” om na die plaas terug te keer en “ ’n plan te beraam”. “Ervare boere (wit) en nuwe boere (hoofsaaklik swart) moet saamwerk. Swart boere moet die grond verskaf en wit boere hul baie ervaring.”
Volgens hom is daar ontstellende ooreenkomste tussen Zimbabwe en Suid-Afrika. Suid-Afrika se regeringsbeleid oor die landbou en grondhervorming was gemik op bemagtiging en die uitwissing van armoede.
“Sedert die minimum loon ingestel is, het meer as ’n miljoen werkgeleenthede verlore gegaan – en die grootste verloorders was plaaswerkers. Waar Zimbabwe eers ’n vooruitstrewende landbousektor gehad het, is dit nou ook byna vernietig. Dit gebeur ook in Suid-Afrika.”
* Lees die volledige artikel in Landbouweekblad van 1 Augustus.