
Hoewel ’n duidelike boodskap oor die oordra van titelaktes aan die begunstigdes van grondhervorming nog nie by die Parlement se portefeuljekomitee vir landelike ontwikkeling en grondhervorming uitgekom het nie, blyk dit of daar êrens in die departement ’n debat aan die gang is om tog die roete te volg.
Mnr. Thomas Walters, die DA se skaduminister vir landelike ontwikkeling en grondhervorming, het gesê die komitee het nog net die kwessie van huurkontrakte van die gemeenskapseiendomsverenigings (CPA) bespreek, maar nog nie die beginsel van een begunstigde/een titelakte nie. “As jy enigsins histories benadeeldes wil bemagtig, dan moet jy aan hulle dieselfde titelaktes gee as wat wit mense het. Na 20 jaar van demokrasie sit ons met 'n variasie van eiendomsreg. Een vir wittes en een vir swartes.
“Die apartheidsraamwerk is steeds in plek en dit moet verander word. Een van die realiteite in die grondhervormingslandskap is dat begunstigdes nie hulle eie grond besit nie en nie buite die regeringstruktuur kan gaan om geld te kry om hulle onderneming te laat groei nie. Die staat is eintlik net besig om stukke grond oor te neem, geld word gemors en daar is geen vordering nie.”
Mnr. Gugile Nkwinti, Minister van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming, het op ’n vraag van Landbouweekblad hieroor gesê dat individuele titelaktes aan elke huishouding binne die CPA’s gegee sal word. Dit sluit nie net die huis in nie, maar ook ’n stukkie grond waarop bedrywighede vir bestaansboerderye kan plaasvind. Die Wetsontwerp op Kommunale Grondregte van 2014, wat die departement hierdie termyn na die Parlement wil bring, sal gestalte aan dié titelaktes gee. Nkwinti het ook aangedui dat titelaktes ook gegee sal word aan diegene wat grond deur die Regering se program vir die herverdeling van grond vir landbou-ontwikkeling (LRAD) gekry het.
Maar kleinboere het egter verlede jaar op ’n werksessie die idee in die departement se beleid op die verhuring en afstanddoening van staatsgrond verwerp dat hulle eers in kommersiële boere moet ontwikkel voordat hulle grondeienaars kan word. Volgens die beleid kan slegs medium- en grootskaalse kommersiële boere in aanmerking kom vir lang huurtermyne met die opsie om te koop.
Intussen het me. Lindiwe Sisulu, Minister van Menslike Nedersettings, gesê dat titelaktes vir huise aan landsburgers bespoedig sal word wat dit voor en ná 1994 van die staat gekry het.