Die georganiseerde landbou in Mpumalanga is woedend oor die regering in dié provinsie se “arrogante verontagsaming” van die plaasbesoekprotokol.
Die departement van landbou, landelike ontwikkeling en grondadministrasie wil met ’n “basislynstudie” inligting oor die “toestand van die landbou” insamel. Daarmee wil hy “seker maak sy strategiese ingrypings is voldoende” om die toestand van landelike armes te hanteer.
Opname is 'bedrieglik'
Statistieke SA in Mpumalanga steun boere wat weier om amptenare van die provinsiale departement op hul plase toe te laat. Statistieke SA het die opname as “bedrieglik” bestempel en gesê hy is die enigste organisasie met ’n mandaat om só ’n opname te doen.
Die departement het inderhaas besluit om die opname in die provinsie te onderneem. Met die uitsondering van “sekere noodsaaklike dienste” is alle amptenare aan diens onttrek en verplig om aan die opname deel te neem.
Lede van die georganiseerde landbou het laat weet dat ongeidentifiseerde amptenare selfs in die aand op plase opdaag. Die TLU SA én Mpumalanga Landbou het hul lede per SMS en radio aangeraai om toegang summier te weier.
Wantroue
“Hierdie studie is hoegenaamd nie met ons bespreek nie en die sterk moontlikheid bestaan dat dit gerieflikheidshalwe onder die sambreel van Sensus 2011 uitgevoer word sodat boere nie ’n onderskeid kan tref nie,” het mnr. Chris van Zyl, adjunk-hoofbestuurder van die TLU SA, gesê.
“Etlike grondeienaars uit verskillende provinsies het reeds hul wantroue jeens die doel van hierdie opname uitgespreek en my pogings om by Statistieke SA ’n verduideliking te kry, het nog nie vrugte afgewerp nie.”
Statistieke SA sê sensusopnemers kan geïdentifiseer word deur die tolvrye landlynnommer 0800 110240 of 080 236 7672 te skakel.
23 September 2011