
Fitzhenry, ’n wol-en-skaapboer, het die boere in sy gemeenskap tydens die toekenningsgeleentheid bedank vir hulle bydrae tot sy prestasie.
Volgens Fitzhenry het hy sonder ’n pa op die plaas begin boer en was dit baie moeilik om só weg te spring.
“Die meeste van wat ek van boerdery weet het ek by die gemeenskap geleer,” het Fitzhenry tydens sy toespraak gesê. “Dit was boere op die grond wat my gehelp het.”
Hy het bygevoeg dat boerdery sy passie is, en dat daar baie te leer is van ander solank jy luister.
Fitzhenry kon die ernstige droogte in sy omgewing deurstaan deur kleiner lamkampe te bou en intensief te lam. Deur slimmer te werk kon hy weer terugkeer na die beginsels van skaapboerdery, om die droogte te oorkom en om weer sy boerdery te laat groei en uit te brei.
Strawwe mededinging
Fitzhenry het vanjaar te staan gekom teen mnre. Dries Pienaar, ’n skaapboer van Molteno, en David Fletcher, ’n skaap-en-beesboer van Bedford.
Volgens mnr. Peter Cloete, voorsitter van Agri Oos-Kaap, was daar vanjaar strawwe mededinging om vir die toekenning en was dit baie moeilik om die wenner te kies.
Mnr. Eben du Plessis, ondervoorsitter van Agri Oos-Kaap, wat vanjaar vir die eerste keer as paneelkeurder deelgeneem het, sê hy veral ingenome met die deelnemers se vindingrykheid.
“Vir my was dit ’n groot leerkurwe. Ek het die heeltyd met my oë gesteel en ek het ná die tyd skuldig gevoel daaroor. Die meeste wat ek van die toer gekry het, was planne en ek wil daarom al die kandidate gelukwens.
“Daar is tans baie pessimisme in die land, maar elkeen van die deelnemers het planne gehad, en ’n optimistiese houding oor die toekoms.”