Die wolmark het verlede week tot sy hoogste vlak in die geskiedenis gestyg.
Cape Wools se Merino-aanwyser het met 2,8% verstewig en die aanwyser het op R80,29/kg gesluit. Dit is 38% hoër as die openingsveiling en ’n styging van 30% teenoor die ooreenstemmende veiling verlede seisoen.
Dit beteken ook dat die aanwyser sedert die eerste veiling in Januarie met bykans 14% verstewig het.
In Australië, waar die weeklikse aanbiedings kleiner as gewoonlik is as gevolg van vertragings met die skeer en die vervoer van wol weens die reën in sekere gebiede, het die aanwyser met 3,2% gestyg. Die groter internasionale vraag na wol en ’n verwagte verdere daling in die produksie van Merinowol dié seisoen is van die belangrikste redes vir die prysstygings.
Verlede week se aanbod was klein. Net 6 525 bale is aangebied, waarvan 96% verkoop is. Die gemiddelde pryse van lang kamwoltipes (MF5) van gehalte (minder as 1% saadinhoud) was soos volg: 20 mikron verstewig met 4,1% tot R84,87/kg en 21 mikron styg met 3,1% tot R78,37/kg.
Daar was nie kwotasies vir die ander mikronkategorieë nie weens die klein aanbod. Sowat 6 500 bale sal by die volgende veiling aangebied word.
4 Februarie 2011