Die wolbedryf wag op antwoorde van China na aanleiding van ’n vroeër moratorium op die uitvoer van wol weens Slenkdalkoors, sê Cape Wools. Ná ’n uitbreking van dié siekte in die land verlede jaar, het China (een van Suid-Afrika se grootste wolinvoerders) ’n moratorium van 12 maande op die invoer van plaaslike wol geplaas.
Me. Ona Viljoen, skakelbeampte vir Cape Wools, sê die groep afgevaardigdes wat die land vroeër die maand besoek het, het opgemerk dat hulle dalk sekere stappe kan volg om die moratorium se voorwaardes aangepas te kry. “Een van die moontlikhede is dat die tydperk van 12 maande verkort kan word. Ons het egter nog niks gehoor nie en hulle sal die terugvoering seker eers na die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye stuur.”
Bek-en-klouseer
Intussen sê Viljoen hulle het ’n versoek aan die departement gerig om hulle toe te laat om die wol wat voor die uitbreking van bek-en-klouseer reeds in pakhuise was, uit te voer. “Daaroor het ons ook nog nie iets gehoor nie, ons wag om van die departement te hoor. Hulle het aanvanklik gesê die situasie behoort oor drie maande uitgepluis te wees, ons hoop regtig daarop.”
Volgens Viljoen koop wolverwerkers steeds wol aan, aangesien daar ’n wêreldwye skaarste is en verwerkers wil seker maak hulle het voorraad.
Bepaal grens in KZN
Intussen vra die Rooivleisprodusente-organisasie (RPO) dat die suidelike grens van die gebied in KwaZulu-Natal wat met bek-en-klouseer besmet is, sou gou moontlik bepaal moet word. Die organisasie meen ook dat die Weermag op dié grens ontplooi moet word voordat dit aangekondig word. Sodoende kan verseker word dat besmette diere nie oor die grens gesmokkel word nie.
Die organisasie raai boere aan om hul vee in die middel van hul plase te hou, en om buffels agter dubbele heinings aan te hou.
“Ander voorstelle sluit in weeklikse kommunikasie met die Departement van Dieregesondheid, ’n aansoek vir geld van die tesourie vir die herstel van die bufferheining, die herinstelling van ’n dieregesondheidskomitee waarin verteenwoordigers van al die veebedrywe moet dien en ’n plan van aksie om verbruikers gerus te stel dat vleis veilig is,” lui die RPO se nuusbrief.
29 Maart 2011