Cape Wools het ’n dringende beroep op wolboere gedoen om hul skape betyds teen slenkdalkoors in te ent. Die siekte is geneig om tydens ’n hoë reënvaltyd in laat somer tot herfs voor te kom.
Die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye het in Desember 2010 reeds gewaarsku dat ’n nuwe uitbreking moontlik is omdat La Niña-toestande oor Suid-Afrika van Desember tot Februarie moontlik hoër as die gewone reënval kan veroorsaak. Dit veroorsaak ’n toename in muskiete wat die slenkdalvirus na diere versprei.
Mnr. Louis de Beer, bestuurder van Cape Wools, sê boere word aanbeveel om die Kloon 13-entstof te gebruik. Voorlopige resultate van proewe wat met die samewerking van Onderstepoort, die Universiteit van Pretoria, die Nasionale Wolkwekersvereniging en ’n private veearts gedoen is om die doeltreffendheid van entstowwe te toets, toon dat Kloon 13 baie doeltreffend die produksie van teenliggaampies in die diere stimuleer.
Ent vroeg in die somer
Kloon 13 word ook deur dr. Bob Swanepoel, ’n wêreldkenner op die gebied van hemorragiese virusse, onderskryf. Diere moet verkieslik reeds vroeg in die somer ingeënt word om die siekte te voorkom.
Jong diere kan met veiligheid vanaf die ouderdom van twee maande ingeënt word, mits hul moeders nie ingeënt was nie, in welke geval inenting op ses maande moet plaasvind. Kloon 13 is ook veilig vir gebruik in dragtige diere. Jaarlikse inenting word aanbeveel.
Produsente moet kennis neem dat enige entstof kan misluk weens verskeie redes, waaronder die verkeerde gebruik daarvan. Die koueketting moet byvoorbeeld nie verbreek word nie, terwyl die instruksies noukeurig gevolg moet word.
2 Februarie 2012