
Die wolmark het 5,2% hoër verhandel en die Cape Wools Merino-indikator het met 761 punte verhoog om te sluit teen ‘n waarde van R154,54/kg (skoon). Op die Australiese mark was die aanwyser 5,3% beter, terwyl Cape Wools se Alle Wol-aanwyser met 4,5% gestyg het.
Cape Wools sê in 'n nuusverklaring die eerste veiling vir die kalenderjaar het goed begin. Die veiling was taamlik groot met 'n uitstekende vraag na die beperkte voorraad Merino-vagte. Die fyner wol het besonder goed presteer terwyl die sterker wol ook geappresieer het.
Die kompetisie tussen kopers was fel omdat goeie gehalte wol minder geredelik beskikbaar is.
Die rand teen R13,71 was sowat 1,1% swakker teenoor die Amerikaanse dollar vergeleke met die vorige veiling. Teen R14,44 was die rand 1,1% sterker teen die euro. Altesaam 98,1% van die 12 213 bale wat op die veiling aangebied is, is verkoop. Die grootste kopers op die veiling was Modiano (3 868), Lempriere SA (3 127), Standard Wool SA (2 538) en Stucken & Co (1 820).
Gemiddelde skoonwolpryse
Die gemiddelde skoonwolpryse vir die seleksie binne die verskillende mikron kategorieë goeie, lang kamwoltipes (MF5) was soos volg:
18,0 mikron neem toe met 6,6% en sluit teen R176,29/kg;
18,5 mikron neem toe met 5,0% en sluit teen R175,08/kg;
19 mikron styg met 5,6% en sluit teen R169,64/kg;
19,5 mikron styg 5,2% en sluit teen R161,07/kg;
20 mikron verhoog met 5,7% tot R157,60/kg;
0,5 mikron is 5,3% sterker en sluit op R148,04/kg;
21,0 mikron neem toe met 4,9% en sluit op R146,73/kg;
21,5 mikron is 6,4% op en sluit op R145,91/kg;
22 mikron is 6,3% sterker en sluit op R144,12/kg;
22,5 mikron is 4,1% op en sluit op R143,54/kg.
Die volgende veiling is op 18 Januarie 2017 wanneer sowat 14 392 bale aangebied word.