
Die wolmark het onder druk gekom met die eerste veiling van die nuwe jaar weens trae vraagtoestande en Cape Wools se Merino-aanwyser verloor 2,6% om op R107,93/kg (skoon) te sluit.
Dit is 3,3% laer as op die openingsveiling en 6,7% laer teenoor die ooreenstemmende verkope van die vorige seisoen.
Me. Ria van Rooyen, wolwaardeerder van Cape Wools, sê kopers skryf die laer wolpryse toe aan lae kommoditeitspryse en dat ‘n groot persentasie van die aanbieding van baie lae gehalte was. Die vooruitsig van ‘n aansienlike groot aanbieding volgende week het bykomende druk op pryse geplaas. Goeie gehalte Merinowol was steeds baie gesog onder die kopers.
Die rand teen R11,53 was sowat 0,6% swakker teenoor die Amerikaanse dollar vergeleke met die vorige week se veiling en teen R13,56, 4,5% sterker teenoor die euro. Altesaam 97% van die 11 928 bale wat op die veiling aangebied is, is verkoop. Die grootste kopers op die veiling was Lempriere SA (4 506), G Modiano SA (2 116), Stucken & Co (2 082) en Standard Wool SA (1 907).
Die gemiddelde skoonwolpryse vir die seleksie binne die verskillende kategorieë goeie, lang kamwoltipes (MF5) was soos volg: 18 mikron styg met 3,5% tot R112,59/kg, 18,5 mikron daal met 0,4% tot R114,97/kg, 19 mikron verswak met 1,9% tot R112,77/kg, 19,5 mikron daal met 3,3% tot R109,41/kg, 20 mikron verswak met 2,9% en sluit op R106,74/kg, 20,5 mikron daal met 2,8% en sluit op R106,37/kg, 21 mikron verswak met 3,3% en sluit op R105,88/kg, 21,5 mikron daal met 2,9% en sluit op R105,88/kg en 22 mikron verswak met 3,0% tot R105,88/kg.
Die volgende veiling is geskeduleer vir 21 Januarie wanneer sowat 19 000 bale onder die hamer kom.