Die wolmark het vir ’n tweede agtereenvolgende week die sterk rand geïgnoreer en Cape Wools se Merino-aanwyser het met 1,2% gestyg tot R58,00/kg (skoon).
Die rand het ’n nuwe piek teenoor die Amerikaanse dollar bereik toe dit teen R6,84 verhandel het, wat 1,1% sterker was vergeleke met verlede week se wisselkoers. Die Australiese mark het ook verbeter ondanks ’n sterk geldeenheid.
Daar was weer sterk mededinging in die verkoopslokaal en kopers wat vir Europese kliënte koop, het die mark oorheers.
Die pryse vir die verskillende tipes het gewissel. Die fyner wol het effens teruggesak terwyl die sterker tipes stewige stygings van tot 3% getoon het.
Die gemiddelde pryse van lang, kamwoltipes (MF5) van gehalte (minder as 1% saadinhoud) was soos volg: 19 mikron was ’n geringe 0,7% goedkoper op R70,93/kg; 20 mikron was 1,2% duurder op R61,17/kg, 21 mikron styg met 2,8% tot R59,72/kg en 22 mikron verstewig met 3,3% tot R58,50/kg.
Sowat 6 500 bale sal volgende week aangebied word.
7 Oktober 2010