Die wolmark het stewig op vandeesweek se veiling vertoon, die tweede van die nuwe seisoen, en Cape Wools se aanwyser het met 0,9% verstewig tot R58,26/kg (skoon).teenoor die vorige veiling van twee weke gelede.
Die grootste redes vir die styging was sterk belangstelling uit Europa, waar voorrade baie laag is, die klein aanbod en ’n swakker rand. Die rand het met 1,4% teenoor die Amerikaanse dollar verswak.
In Australië het die mark ook verbeter ná sy redelike flou vertoning die afgelope paar weke. Daar was goeie belangstelling vir gehaltewol van alle kategorieë en die pryse van feitlik alle tipes het gestyg.
Dit was ’n redelike klein aanbieding van 6 613 bale waarvan 98% verkoop is. Daar word verwag dat die aanbod op die volgende twee veilings ook redelik klein sal wees.
Die gemiddelde pryse van lang, kamwoltipes (MF5) van gehalte (minder as 1% saadinhoud) was soos volg: 19 mikron verstewig met 0,4% tot R68,21/kg; 20 mikron verstewig met 1,3% tot R61,00/kg, 21 mikron was 1,7% duurder op R60,02/kg en 22 mikron was onveranderd op R58,66/kg.
Sowat 7 000 bale sal volgende week onder die hamer kom.
2 September 2010