
Die wolmark is onder druk weens moeilike vraagtoestande en Cape Wools se Merino-aanwyser het 2,5% verloor om op R109,20/kg (skoon) te sluit. Dit is 2,2% laer as op die openingsveiling en 1,2% laer teenoor die ooreenstemmende verkope van die vorige seisoen.
Me. Ria van Rooyen van Cape Wools sê die plaaslike mark het die globale neiging gevolg en, soos op die Australiese mark, het die aanwyser met 1,5% teruggesak.
Die mark het besluiteloos vertoon en trae bestellings uit China het bygedra tot die laer pryse. Die sterker rand het ook afwaartse druk op die mark uitgeoefen. Die swak aanbieding het aanleiding gegee tot sterk kompetisie vir goeie gehalte Merinowol met goeie treksterkte. Plaaslike kopers het hul kommer uitgespreek dat die swak gehalte aanbiedings in aankomende weke sal voortduur.
Die rand was gemiddeld R10,84 teenoor die Amerikaanse dollar, 1,6% sterker teenoor die gemiddelde koers van verlede week. Altesaam 9 828 bale is aangebied waarvan 98% verkoop is.
Die grootste kopers op die veiling was Standard Wool SA (3 544) en Lempriere SA (2 425).
Die gemiddelde skoonwolpryse vir die seleksie binne die verskillende kategorieë goeie, lang kamwoltipes (MF5) was soos volg: 18 mikron daal met 2,7% tot R119,43/kg, 19 mikron verswak met 1,7% tot R114,41/kg, 20 mikron daal met 2,2% en sluit op R109,43/kg, 21 mikron verswak met 2,8% en sluit op R108,08/kg en 22 mikron daal met 0,2% tot R107,98/kg.
Die volgende veiling is geskeduleer vir 5 November wanneer sowat 11 900 bale onder die hamer kom.