
Die wolmark het effens onder druk gekom en Cape Wools se Merino-aanwyser het 1,3% verloor om op R113,97/kg (skoon) te sluit. Dit is steeds 2,1% hoër as op die openingsveiling en 4,0% hoër teenoor die ooreenstemmende verkope van die vorige seisoen.
Me. Ria van Rooyen, wolwaardeerder van Cape Wools, sê die mark was rigtingloos en kopers skryf die laer pryse toe aan die klein aanbieding en ’n algemene gebrek aan goeie gehalte wol. Swakker gehalte tenger wol het weer onder druk gekom weens ’n gebrekkige vraag daarna.
Die rand het 0,5% teenoor die Amerikaanse dollar versterk, vergeleke met die gemiddelde koers op die vorige week se veiling en op R10,92 gesluit. Dit was ’n klein veiling met net 6 703 bale wat aangebied is, waarvan 97% verkoop is. Die grootste kopers op die veiling was Lempriere SA (2 183) en Standard Wool SA (1 761).
Die gemiddelde skoonwolpryse vir die seleksie binne die verskillende kategorieë goeie, lang kamwoltipes (MF5) was soos volg: 18 mikron daal met 2,3% tot R125,07/kg, 19 mikron verswak met 2,1% tot R118,61/kg, 20 mikron daal met 1,0% en sluit op R115,08/kg, 21 mikron verswak met 1,1% en sluit op R112,82/kg en 22 mikron daal met 1,9% tot R110,83/kg.
Die volgende veiling is geskeduleer vir 23 September wanneer sowat 7 200 bale onder die hamer kom.