Ná die sterk vertoning die afgelope paar weke het die wolmark verlede week teruggesak. Cape Wools se Merino-aanwyser het met 1% tot R85,36/kg (skoonwol) gedaal.
Die belangrikste rede is die rand wat met 1,5% teenoor die Amerikaanse dollar verbeter het. Die prys is steeds sowat 48% hoër as op die openingsveiling van die seisoen.
Die gemiddelde pryse van lang kamwoltipes (MF5) met minder as 1% saadinhoud het uiteenlopend gepresteer: 19 mikron styg met 0,9% tot R114,90/kg, 20 mikron daal met 1,6% tot R90,19/kg en 21,5 mikron daal met 2,5% tot R83,72kg.
Amper 96% van die 10 200 bale wat aangebied is, is verkoop. Die eerste veiling ná die Paasreses is op 3 Mei wanneer sowat 10 000 bale onder die hamer sal kom.
15 April 2011