
Die wolmark het met 7,7% op die weeklikse veiling gestyg en Cape Wools se Merino-aanwyser het met 1 107 punte verhoog om op R154,70/kg (skoon) te sluit.
In Australië was die aanwyser 1,3% hoër, terwyl Cape Wools se Alle Wol-aanwyser met 6,7% gestyg het.
Luidens 'n nuusverklaring deur Cape Wools is die skerp styging direk toeskryfbaar aan die sterk dollar, wat ondersteun is deur die goeie vraag na wol op wêreldmarkte. Die prysstygings was konsekwent oor lang sowel as medium lengte wol met goeie gehalte wol wat weer eens beloon is.
Goeie mededinging op veiling
Die rand teen R14,21 was sowat 5% swakker teenoor die Amerikaanse dollar vergeleke met die vorige veiling. Teen R15,23 was die rand 1,0% swakker teen die euro. Altesaam 98,4% van die 14 385 bale wat op die veiling aangebied is, is verkoop. Die grootste kopers op die veiling was Modiano (5 649), Standard Wool SA (5 066) en Lempriere SA (2 261).
Die gemiddelde skoonwolpryse vir die seleksie binne die verskillende mikron kategorieë goeie, lang kamwoltipes (MF5) was soos volg:
18,0 mikron neem toe met 1,6% en sluit teen R168,46/kg.
18,5 mikron neem af met 0,2% en sluit teen R162,45/kg.
19,0 mikron styg met 3,6% en sluit teen R162,58/kg.
19,5 mikron styg 6,5% en sluit teen R160,06/kg.
20 mikron versterk met 11,3% tot R158,56/kg.
20,5 mikron styg 6,7% en sluit op R147,27/kg.
21,0 mikron neem toe met 8,3% en sluit op R145,72/kg.
21,5 mikron is 7,3 sterker en sluit op R145,07/kg.
22,0 mikron is 8,5% sterker en sluit op R144,49/kg.
22,5 mikron is 7,0% op en sluit op R142,61/kg.
Die volgende veiling is geskeduleer vir 23 November 2016 wanneer sowat 11 516 bale aangebied word.