
Die wolprys het skerp gedaal in 'n oënskynlike afwaartse regstelling na aanleiding van die voortdurende prysstygings wat die mark oor die afgelope paar maande ondervind het.
Cape Wools se Merino-aanwyser het met 4,5% teruggesak tot R115,39/kg (skoon). Dit is steeds 13,2% hoër as die eerste veiling van die seisoen.
Op internasionale markte is dié algemene neiging soortgelyk aan die Australiese mark, wat met 2,1% teruggesak het. Die rand het die week sterker vertoon en was gemiddeld 1,2% sterker teenoor die Amerikaanse dollar, vergeleke met die gemiddelde koers van verlede week.
Altesaam 7 663 bale is aangebied, waarvan 93% verkoop is. Die pryse van feitlik alle langwol het gedaal, maar die fyner tipes het die grootste dalings aangeteken.
Die gemiddelde skoonwolpryse van enkele lang, kamwoltipes (MF5) van gehalte was soos volg: 18 mikron daal met 5,2% tot R130,45/kg; 19 mikron verswak met 6,8% tot R121,93/kg; 20 mikron was 3,6% goedkoper op R115,31/kg en 21 mikron daal met 2,7% tot R114,21/kg.
Die volgende veiling is geskeduleer vir 19 Februarie wanneer sowat 8 500 bale onder die hamer kom.