
Die wolmark het vroeër vandeesweek met 5,8% en 853 punte gestyg en die Cape Wools Merino-indikator het teen ’n waarde van R156,06/kg (skoon) gesluit. Op die Australiese mark was die aanwyser 0,4% op, terwyl die Cape Wools Alle Wol-aanwyser met 5,4% gestyg het.
Kopers was van mening dat die algehele aanbieding nie aan verwagtings voldoen het nie, maar langer en beter gehalte wol het goed vertoon relatief tot kort en sterker wol. Die gewoel op die valutamark het kopers op hul tone gehou met die bestuur van die gepaardgaande finansiele risiko’s.
Die onderliggende beginsels van die vraag na wol bly sterk maar vandeesweek se styging kan grootliks toegeskryf word aan die skerp daling in die waarde van die rand. Die rand teen R14,36 was sowat 4,5% swakker teenoor die Amerikaanse dollar vergeleke met die vorige veiling. Teen R15,84 was die rand 2,7% swakker teen die euro.
Altesaam 99,2% van die 7 869 bale wat op die veiling aangebied is, is verkoop. Die grootste kopers op die veiling was G Modiano SA (3 063), Standard Wool SA (2 210), Lempriere SA (1 723), en Segard Masurel SA (505).
Die gemiddelde skoonwolpryse vir die seleksie binne die verskillende mikron kategorieë goeie, lang kamwoltipes (MF5) was soos volg: 18,0 mikron neem toe met 7,5% en sluit teen R174,41/kg; 18,5 mikron neem 8,9% toe en sluit teen R171,72/kg; 19,0 mikron styg met 6,0% en sluit teen R166,54/kg; 19,5 mikron styg met 6,7% en sluit op R160,42/kg; 20 mikron versterk met 5,9% tot R154,60/kg; 20,5 mikron styg 6,3% en sluit op R152,62/kg; 21,0 mikron neem toe met 5,8% en sluit op R151,43/kg; 21,5 mikron is 6,0 duurder en sluit op R149,62/kg; 22,0 mikron is 4,5% op en sluit op R147,41/kg en 22,5 mikron styg met 0,8% en sluit op R147,08/kg.
Die volgende veiling vind op 19 Oktober plaas wanneer sowat 9 879 bale aangebied word.