
Handelstoestande op die weeklikse veiling bly uitdagend en Cape Wools se Merino-aanwyser het verloor 5,2% om op R105,62/kg (skoon) te sluit. Dit is 5,4% laer as op die openingsveiling en 12,1% laer teenoor die ooreenstemmende verkope van die vorige seisoen.
Me. Ria van Rooyen, wolwaardeerder van Cape Wools, sê plaaslike handelaars ervaar 'n stewige vraag na goeie gehalte, fyn Merinowol, terwyl sterkter wol na hul mening onder druk gekom het. Die meerderheid van die aanbieding op die veiling was minderwaardige breekwol wat op die dag minder gesog was en teen laer waardes verkoop is.
Die rand teen R11,55, was 0,2% sterker teenoor die Amerikaanse dollar vergeleke met die vorige week se veiling en teen R13,10, 2.1% sterker teenoor die euro. ‘n Totaal van 11 993 bale is aangebied, waarvan 94% verkoop is. Die grootste kopers op die veiling was Lempriere SA (4 006), Standard Wool SA (2 792), G Modiano SA (1 890) and Stucken & Co (1 445).
Die gemiddelde skoonwolpryse vir die seleksie binne die verskillende kategorieë goeie, lang kamwoltipes (MF5) was soos volg: 18 mikron styg met 6,9% tot R126,15/kg, 18,5 mikron versterk met 2,1% tot R120,43/kg, 19 mikron verswak met 1,6% tot R114,90/kg, 19,5 mikron verswak met 2,0% tot R109,95/kg, 20 mikron daal met 1,4% en sluit op R108,01/kg, 20,5 mikron daal met 2,1% en sluit op R107,14/kg, 21 mikron verswak met 2,3% en sluit op R105,70/kg, 21,5 mikron verswak met 2,5% en sluit op R106,61/kg en 22 mikron daal met 0,8% tot R106,79/kg.
Die volgende veiling is geskeduleer vir 4 Februarie wanneer sowat 9 000 bale aangebied sal word.