Wolpryse het vir ’n tweede agtereenvolgende week teruggesak en Cape Wools se Merino-aanwyser het met 2,6% tot R99,43/kg (skoon) gedaal. Dit is die eerste keer sedert die eerste veiling in Januarie vanjaar dat die aanwyser tot onder die sleutelvlak van R100/kg terugsak.
Dié daling was in ooreenstemming met die Australiese mark waar pryse vir ’n derde agtereenvolgende week verswak het, hoofsaaklik weens swakker sentiment en kommer oor China, die wêreld se grootste wolkoper, se groeivooruitsigte.
Die klein aanbod van net 5 511 bale het verder daartoe bygedra dat daar nie veel belangstelling van oorsese kopers, veral vanuit China, was nie. ’n Hoë verkooppersentasie van 97% is egter behaal. Die prys van alle lang vagwol het teruggesak. Die grootste daling was in die kategorieë 19,5-20,5 mikron.
Die gemiddelde skoonwolpryse van lang, kamwoltipes (MF5) van gehalte was soos volg: 18 mikron daal met 1,5% tot R121,33/kg, 19 mikron daal met 1,7% tot R110,95/kg, 20 mikron was 3,1% goedkoper op R104,90/kg en 21 mikron verswak met 2,2% tot R103,08/kg. Daar was geen kwotasies vir 22 mikron nie.
Geen veiling is vir volgende week geskeduleer nie. Veilings sal weer op 18 April hervat wanneer sowat 10 000 bale aangebied sal word.
5 April 2012