Die wolmark het op dié week se veiling stoom verloor, maar die markaanwyser staan nog bokant R100/kg vir skoonwol.
Die wolmark het op dié week se veiling stoom verloor te midde van die voortgestte onsekerheid op wêreldmarkte en vrese vir inflasie. Cape Wools se Merino-aanwyser het gevolglik met 2,6% tot R100,75/kg (skoonwol) teruggesak. Dit is egter steeds bokant die vlak van R100/kg.
Dié daling is in navolging van die Australiese mark waar pryse ook verswak het. Die rand, wat met 3,5% teenoor die Amerikaanse dollar verswak het vergeleke met die gemiddelde koers op verlede week se veiling, het help keer dat die mark verder teruggesak het.
Die grootste dalings in vagwol was in die kategorieë vir 20 en 21 mikron, waar die gemiddelde prys met sowat 3% gedaal het.
Die gemiddelde skoonwolpryse van die lang, kamwoltipes (MF5) van gehalte (minder as 1% saadinhoud) pryse was soos volg: 19 mikron verswak met 1,4% tot R118,31/kg, 20 mikron was 3,2% goedkoper op R108,75/kg, 21 mikron daal met 2,7% tot R104,89/kg en 22 mikron was onveranderd op R100,05/kg.
Sowat 8 500 bale sal volgende week aangebied word.
17 November 2011