Die sterker rand het op die laaste veiling voor die Kersreses druk op die wolmark uitgeoefen en Cape Wools se Merino-aanwyser het met 3,4% tot R98,15/kg skoon teruggesak. Dit is nietemin bykans 56% hoër as op dieselfde veiling verlede seisoen.
Die rand was 4,4% sterker teenoor die Amerikaanse dollar, vergeleke met die gemiddelde koers op verlede week se veiling, wat wol heelwat duurder vir oorsese kopers gemaak het. In Australië, waar sowat 52 000 bale aangebied is, het die mark ook ’n raps laer gesluit.
Dit was ’n groot veiling met 14 137 bale waarvan 90% verkoop is.
Wolontvangste by makelaars is sowat 8% laer vergeleke met die ooreenstemmende tydperk verlede seisoen.
Die gemiddelde skoonwolpryse van lang, kamwoltipes (MF5) van gehalte was soos volg: 19 mikron daal met 4,3% tot R113,63/kg, 20 mikron was 2,3% goedkoper op R106,32/kg, 21 mikron was 4,2% goedkoper op R103,36/kg en 22 mikron daal met 1,9% tot R97,60/kg.
Veilings hervat weer op 11 Januarie 2012 wanneer sowat 10 000 bale onder die hamer kom.