Die wolmark het teruggesak en Cape Wools se Merino-aanwyser het met 2% gedaal vergeleke met die vorige veiling twee weke gelede en op R102,06/kg (skoonwol) gesluit.
Dié daling was in ooreenstemming met die Australiese mark, waar pryse verlede week reeds begin terugsak het en dié week verder verswak het. Ontleders skryf dit toe aan swakker sentiment en kommer oor China se groeivooruitsigte.
Pryse is egter steeds op aanmerklik hoër vlakke as dieselfde tyd verlede seisoen. Die markaanwyser beweeg sedert Januarie vanjaar bokant die vlak van R100/kg en is tans 18% hoër as op dieselfde veiling verlede seisoen. Dit is ook 15% bokant die laagste vlak van die seisoen wat op die eerste veiling in Oktober verlede jaar aangeteken is.
Pryse vir alle lang vagwol het teruggesak. Die grootste daling was egter in die fyner mikronkategorieë.
Die gemiddelde skoonwolpryse van lang, kamwoltipes (MF5) van gehalte was soos volg: 18 mikron daal met 4% tot R119,54/kg, 19 mikron daal met 2,4% tot R112,86/kg, 20 mikron was 1,5% goedkoper op R108,29/kg en 21 mikron verswak met 1,1% tot R105,38/kg. Daar was geen kwotasies vir 22 mikron nie.
Sowat 5 000 bale sal volgende week aangebied word. Daar is nog net ses veilings oor voordat die seisoen op 6 Junie sluit.
29 Maart 2012