Die wolmark het sterk vertoon ondanks ’n sterker rand en Cape Wools se Merino-aanwyser het feitlik onveranderd op R102,47/kg (skoonwol) gesluit. Dit is ’n marginale 0,2% laer as verlede week.
In Australië het die mark ook sy prysvlakke behou en effens hoër gesluit.
Daar was goeie mededinging onder veral die vetwoluitvoerders, wat die mark ondersteun het ondanks die versterking van 1% van die rand teenoor die Amerikaanse dollar.
Hoewel die aanwyser feitlik onveranderd was, het die pryse van lang vagwol van gehalte (MF5) van die meeste mikronkategorieë met tussen 0,5% en 2,5% gestyg. Die enigste uitsondering was 21 mikron, wat effens teruggesak het.
Dit was ’n kleiner veiling as die vorige week met 10 186 bale, waarvan 97% verkoop is.
Die gemiddelde skoonwolpryse van lang, kamwoltipes (MF5) van gehalte was soos volg: 19 mikron versterk met 2,6% tot R119,97/kg, 20 mikron was 0,5% duurder op R108,69/kg, 21 mikron verswak met 0,8% tot R104,33/kg, maar 22 mikron styg met 0,8% tot R104,70/kg.
Volgende week se aanbod van 5 500 bale is die kleinste sover dié seisoen.
25 Januarie 2012