Die wolmark het steeds redelik sterk op vandeesweek se veiling vertoon en Cape Wools se Merino-aanwyser het met ’n geringe 0,6% teruggesak tot R103,39/kg (skoon). Op dieselfde veiling verlede jaar het die aanwyser op R68,66/kg (skoon) gesluit.
Wol van gehalte was goed in aanvraag en het goeie pryse behaal, maar kopers was ietwat traag om hoë pryse vir die medium en swakker tipes te betaal. Hulle het weer gewaarsku dat produsente teen besoedeling moet waak en seker moet maak dat daar nie te groot variasies in die lengte van die wol is wat saam verpak word nie.
Daar was goeie mededinging onder kopers en 95% van die 9 240 bale wat aangebied is, is verkoop.
Die gemiddelde skoonwolpryse van die lang, kamwoltipes (MF5) van gehalte (minder as 1% saadinhoud) pryse was soos volg: 19 mikron verswak met 2,6% tot R119,93/kg, 20 mikron was 1,9% goedkoper op R112,36/kg, 21 mikron daal met 1% tot R107,85/kg en 22 mikron verswak met 1,1% tot R100,91/kg.
Sowat 10 500 bale sal volgende week onder die hamer kom.
10 November 2011