
Die wolprys het met 1,5% gestyg en Cape Wools se Merino-aanwyser staan nou op R113,32/kg (skoon), se me. Ria van Rooyen, wolwaardeerder van Cape Wools.
Hoewel dit 1,5% hoër is as die openingsveiling, het pryse met 2,3% gedaal teenoor die ooreenstemmende veiling van die vorige seisoen.
Die sterker mark weerspieël die gunstige sentiment oor wol. Die Australiese mark het met 1% gestyg. Kopers skryf die huidige wolprys toe aan 'n stewige vraag vir goeie gehalte Suid-Afrikaanse Merinowol uit alle sektore van die bedryf.
Dit was 'n redelike groot aanbieding van 13 229 bale, waarvan 99% verkoop is. Die grootste kopers op die veiling was Standard Wool SA (4 072), Lempriere SA (3 292), Stucken & Co (2 642) en G. Modiano SA (1 647).
Die gemiddelde skoonwolpryse vir die seleksie binne die verskillende kategorieë goeie, lang kamwoltipes (MF5) was: 18 mikron styg met 3,7% tot R125,43/kg, 19 mikron versterk met 0,5% tot R118,51/kg, 20 mikron styg met 2,0% en sluit op R114,33/kg, 21 mikron versterk met 1,4% en sluit op R111,82/kg en 22 mikron styg met 2,6% tot R111,80/kg.
Op 10 September kom sowat 9 800 bale onder die hamer.