Geskiedenis is op vandeesweek se wolveiling gemaak toe Cape Wools se Merino-aanwyser vir die eerste keer deur die sleutelvlak van R100/kg gebreek het om op R100,15/kg (skoonwol) te sluit.
Dit is nie net die hoogste vlak vir die aanwyser nóg nie, maar is ook 7,5% hoër as verlede week, 9% stewiger as die openingsvlak en 60% hoër as op dieselfde veiling verlede seisoen.
Dié styging is in ’n groot mate deur sterk belangstelling uit Europa aangevuur, waar vetwolvoorrade baie laag is. Dit lyk ook asof daar groter vertroue onder Europese verwerkers is.
Die rand was grootliks onveranderd teenoor die belangrikste geldeenhede vergeleke met verlede week se gemiddelde koerse.
Altesame 7 780 bale aangebied is, waarvan 97% verkoop is.
Die pryse van alle langwolkategorieë het gestyg, maar die grootste styging is deur die mediumwol-kategorieë aangeteken met pryse wat tot 9% gemiddeld verbeter het.
Die gemiddelde skoonwolpryse van die lang, kamwoltipes (MF5) van gehalte (minder as 1% saadinhoud) pryse was soos volg: 19 mikron verstewig met 8,7% tot R119,40/kg, 20 mikron was 7,6% duurder op R119,30/kg, 21 mikron styg met 9,2% tot R106,10/kg en 22 mikron verbeter met 9,3% tot R98,83/kg.
Sowat 10 000 bale sal volgende week aangebied word.
27 Oktober 2011