
Die wolprys het gestyg ondanks 'n sterker rand en Cape Wools se Merino-aanwyser het met 1,5% gestyg en op R117,00/kg (skoon) gesluit.
Dit is steeds 4,8% hoër as op die openingsveiling en 0,3% hoër teenoor die ooreenstemmende verkope van die vorige seisoen, aldus me. Ria van Rooyen, wolwaardeerder van Cape Wools.
China koop weer wol en die sterker vraag het daartoe bygedra dat die plaaslike mark sterker vertoon. Op die Australiese mark het 'n soortgelyke tendens geheers waar die mark met 1,7% gestyg het. Kopers het melding gemaak van sterk kompetisie vir die min goeie kwaliteit wol weens 'n algehele tekort daarvan op vandeesweek se veiling.
Van Rooyen sê die rand het met 1,0% teenoor die Amerikaanse dollar versterk, vergeleke met die gemiddelde koers op die vorige veiling en het gesluit op R11,18. 'n Verkoopspersentasie van 98 is bereik van die 8 280 bale wat op die veiling aangebied was. Die grootste kopers was Standard Wool SA (2 419), Lempriere SA (1 787) en G Modiano SA (1 581).
Die gemiddelde skoonwolpryse vir die seleksie binne die verskillende kategorieë goeie, lang kamwoltipes (MF5) was: 18 mikron styg met 1,7% tot R129,13/kg, 19 mikron versterk met 0,7% tot R120,78/kg, 20 mikron styg met 1,9% en sluit op R117,45/kg, 21 mikron versterk met 1,4% en sluit op R116,14/kg en 22 mikron styg met 0,9% tot R115,45/kg.
Die volgende veiling is op 15 Oktober wanneer sowat 8 200 bale onder die hamer kom.