
As die eerste wolveiling van die seisoen 'n aanduiding is van hoe wolpryse vir die res van die seisoen gaan lyk, gaan die een na die ander rekord tydens opkomende veilings val.
Die wolmark het met 'n allemintige 19,8% gestyg en teen 'n prys van R183,50/kg skoonwol gesluit. Dié prys is 4,3% hoër as die eerste veiling van verlede seisoen. Cape Wools se Merino-aanwyser het met 3036 punte gespring.
Cape Wools skryf in 'n nuusverklaring die goeie prestasie toe aan 'n sterk vraag na lang Suid-Afrikaanse merinowol van 'n goeie gehalte uit China, Indië en die Tsjeggiese Republiek, waar wolkledingstukke steeds gewild is. Die swakker rand werk ook in die guns van die wolmark.
Gee boere moed
Volgens die verklaring het sowat 97,6% van die 13 865 bale wat op die veiling te koop aangebied is, verkoop. Sowat 8 389 bale sal op die volgende veiling op 23 Augustus te koop aangebied word.
Mnr. Greg Miles van die plaas Bare Acres in die distrik Stutterheim is baie in sy skik met die hoër wolpryse. “Ek volg nie gewoonlik wat die woolmark doen nie, dit maak 'n ou net mismoedig as dit nie in jou rigting gaan nie. Maar dit is wonderlik dat die prys soveel opgegaan het. Dit gee ons boere regtig moed terwyl die droogte so erg is,” sê Miles.
Mnr. Casper Labuschagne, boer van Jamestown en voormalige nasionale ondervoorsitter van die NWKV, het op Facebook geskryf dat dié styging die grootste styging in die wolprys is sedert hy in 1995 in die wolbedryf begin werk het.
“Ek hoop die mark hou vir ons wat nog moet skeer!”