
Die wolmark storm voort op sy bullopie en danksy ’n swakker rand en goeie vraag is verlede week se rekord-wolprys oorskry toe Cape Wools se Merino-aanwyser met 1,6% gestyg het om op R120,18/kg (skoon) te sluit.
Dit is die hoogste prys nog en is 17,9% hoër as op die openingsveiling en 8,8% hoër as die ooreenstemmende veiling van die vorige seisoen.
Goeie mededinging vir beter gehalte lang kamwol was kenmerkend op gister se veiling. Volgens kopers het die fyner wol van gehalte meer realistiese pryse behaal. Hulle het wel hul kommer uitgespreek oor die tekort aan goeie gehalte kamwol vir die volgende drie veilings.
Swakker rand speel rol
Die rand het swakker verhandel en was gemiddeld R11,02 teenoor die Amerikaanse dollar, 2% laer as die gemiddelde koers van verlede week.
Dit was 'n redelike groot aanbieding van 11 120 bale en 'n verkoopspersentasie van 97 is behaal. Die gemiddelde prys vir goeie kamwol van 21 mikron het met 2,9% gestyg.
Die gemiddelde skoonwolpryse van enkele lang, kamwoltipes (MF5) van gehalte was soos volg: 18 mikron daal met 2,1% tot R130,42/kg, 19 mikron versterk met 1% tot R127,37/kg, 20 mikron was 1,6% duurder op R121,89/ kg, 21 mikron het met 2,9% gestyg tot R121,29/kg en 22 mikron was 0,7% goedkoper om op R118,48/kg te sluit.
Die volgende veiling is op 5 Februarie wanneer sowat 7 500 bale onder die hamer kom.