Wolpryse het op die eerste veiling ná die Paasreses effens verswak en Cape Wools se Merino-aanwyser het met 1,9% teenoor die vorige veiling drie weke gelede teruggesak tot R83,71/kg (skoonwol).
Hoewel die Australiese mark ook afwaarts geneig het en die plaaslike mark dié neiging nagevolg het, het die rand sedert die vorige veiling met 1,5% versterk, wat bykomende druk op pryse geplaas het.
Daar was nietemin steeds ’n goeie vraag na vagwol van gehalte wat goeie pryse behaal het. Altesame 10 812 bale is aangebied waarvan 93% verkoop is.
Met nog net drie veilings oor voor die einde van die seisoen, lyk dit of produksie dié seisoen effens laer sal wees. Wolontvangste by wolmakelaars se pakhuise is tans 5% laer as in die ooreenstemmende tydperk verlede seisoen.
Die gemiddelde pryse van lang, kamwoltipes (MF5) van gehalte (minder as 1% saadinhoud) vir die verskillende mikrongroepe het redelik gewissel: 19 mikron daal met 1,4% tot R113,27/kg, 20 mikron styg met 0,8% tot R90,93/kg, maar 21 mikron was 0,9% goedkoper op R84,75/kg.
Sowat 9 500 bale sal op volgende week se veiling aangebied word.
4 Mei 2011