Pryse was wisselvallig op dié week se wolveiling, wat weer onder druk van die onsekerheid op wêreldmarkte was.
Cape Wools se Merino-aanwyser het met 3,4% tot R97,29/kg (skoon) teruggesak. Markte in die ander woluitvoerlande het ook gedaal. Lang vagwol van gehalte was in aanvraag en het goeie pryse behaal.
Die vraag na medium- tot minderwaardige tipes en kruisraswol was swak en dié pryse het heelwat gedaal. Die pryse van die meeste langwoltipes het ook laer gesluit.
Die rand, wat sedert verlede week met 3,8% teenoor die Amerikaanse dollar verswak het, het die mark in ’n mate gestut en voorkom dat pyse verder terugsak.
Die gemiddelde skoonwolpryse van lang, kamwoltipes (MF5) van gehalte was soos volg: 19 mikron het verswak met 2,7% tot R115,08/kg, 20 mikron was 3,5% goedkoper op R104,89/kg, 21 mikron het gedaal met 2,2% tot R102,62/kg en 22 mikron was onveranderd op R100,75/kg.
Sowat 11 000 bale sal volgende week aangebied word.
24 November 2011