Wolpryse het die hoogte in geskiet op die eerste veiling ná die Kersreses en Cape Wools se Merino-aanwyser het ondanks ’n sterker rand met 11,8% gestyg, vergeleke met die vorige veiling in Desember.
Die prys is nou op ’n rekordvlak van R70,54/kg (skoon). Dit is 22% hoër as met die openingsveiling in Augustus verlede jaar. Altesame 14 189 bale is aangebied waarvan 98% verkoop is.
Dié styging is in navolging van die Australiese mark waar die aanwyser sover dié week met net meer as 9% teenoor die laaste veiling in Desember verbeter het. Die mark word tans aangedryf deur die sterk vraag na fynwol (19,5 mikron en fyner) en die beter tipes wol uit veral Europa. Kommer oor die aanbod het ook ’n rol gespeel, veral in die lig van die oorstromings in Australië.
Fynwolproduksie in Australië het gedaal en daar daar word ook verwag dat aanbod van die goeie style wol redelik beperk gedurende die res van die seisoen gaan wees.
Die rand was 1,7% sterker teenoor die Amerikaanse dollar vergeleke met die vorige veiling, terwyl met 3,3% teenoor die euro verstewig het.
Die gemiddelde pryse van lang, kamwoltipes (MF5) van gehalte (minder as 1% saadinhoud) was soos volg: 19 mikron styg met 8,7% tot R91,80/kg, 20 mikron verstewig met 13,7% tot R75,71/kg, 21 mikron verbeter met 9,2% tot R69,74/kg en 22 mikron was 13,9% duurder op R70,01/kg.
Sowat 14 000 bale sal op volgende Woensdag se veiling aangebied word.
12 Januarie 2011