Die wolmark het stewig op die twee veiling van die seisoen vertoon en Cape Wools se Merino-aanwyser het met 2,5% teenoor die vorige veiling twee weke gelede verbeter tot R94,32/kg (skoonwol).
Die plaaslike mark het die Australiese mark gevolg waar pryse ook bestendig was en die markaanwyser marginaal hoër as waarop dit die vorige week gesluit het. Die redelik klein aanbod van 6 128 bale het pryse ondersteun.
Die pryse het verstewig ondanks die rand wat met 1,1% teenoor die Amerikaanse dollar versterk het vergeleke met die vorige veiling. Die mark is op die oomblik nog redelik rigtingloos omdat die vraag uit Europa steeds redelik traag is weens die Europese somervakansie.
Die verkooppersentasie was 94%.
Die gemiddelde skoonwolpryse van die lang, kamwoltipes (MF5) van gehalte (minder as 1% saadinhoud) pryse was soos volg: 19 mikron verbeter met 1,9% tot 114,62/kg, 20 mikron was 2,4% duurder op R102,16/kg, 21 mikron styg met 4,2% tot R98,68/kg en 22 mikron verstewig met 1,6% tot R93,99/kg.
Sowat 7 500 bale kom volgende week onder die hamer.
1 September 2011