Die eerste wolveiling van die nuwe jaar het op ’n hoë noot begin toe pryse skerp gestyg het.
Cape Wools se Merino-aanwyser het met 7,1% tot R105,15/ kg (skoonwol) gestyg. Dit is die hoogste vlak in die geskiedenis vir die aanwyser. Dit is ook 49% hoër as op die ooreenstemmende veiling verlede seisoen en 1% stewiger vergeleke met die vorige hoogste vlak in die eerste week van November verlede jaar.
Daar was sterk mededinging van die verskillende sektore van die handel en die pryse van gehaltevagte het tot ver bokant R100/ kg gestyg. In die kategorie vir 22 mikron het sommige tipes met tot 10% verbeter.
Australiese mark
Die groot styging in pryse was in navolging van die Australiese mark. Dié mark het ’n week later as Suid-Afrika s’n gesluit en pryse het gestyg. Dié styging is op verlede week se veilings voortgesit.
Die rand was 1,3% swakker teenoor die Amerikaanse dollar vergeleke met die gemiddelde koers op die vorige veiling, maar was 3,8% sterker teenoor die euro. Dit was ’n redelike groot veiling met 12 330 bale waarvan 96% verkoop is.
Die gemiddelde skoonwolpryse van lang kamwoltipes (MF5) van gehalte was soos volg: 19 mikron verbeter met 6,6% tot R121,11/kg, 20 mikron was 7,8% duurder op R114,62/kg, 21 mikron styg met 6% tot R109,51/ kg en 22 mikron verstewig met 10,2% tot R107,58/kg. Sowat 14 000 bale sal vandeesweek aangebied word.
13 Januarie 2012