
“Ons wil die minister van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, me. Thoko Didiza, en die minister van handel, nywerheid en mededinging, mnr. Ebrahim Patel, asook die direkteurs-generaal van die departemente bedank vir hul werk om die opheffing te bewerkstellig.
“Dit is ’n voorbeeld van wat bereik kan word deur ’n doeltreffende vennootskap tussen die bedryf en die staat,” sê Agri SA en die Nasionale Wolkwekersvereniging (NWKV) in ’n gesamentlike verklaring.
“Agri SA en die NWKV is verlig oor die opheffing van die verbod en dat die Suid-Afrikaanse regering ’n ooreenkoms met die Chinese regering kon beding rakende Suid-Afrikaanse woluitvoer.”
Ook Agbiz het die departemente, asook die departement van internasionale verhoudinge en samewerking bedank vir hul rol om die verbod opgehef te kry. “Die besluit is ’n welkome ontwikkeling binne die konteks van ’n toenemend wisselvallige omgewing vir internasionale handel.”
Didiza verwelkom in ’n verklaring die besluit van die Chinese doeane-owerheid en die ministerie van landbou en landelike sake in China om die verbod op wol en ander produkte van diere met gesplete hoewe van Suid-Afrika op te hef.
China het in April die verbod ingestel weens die voortslepende bek-en-klouseeruitbrekings. Dit was ondanks ’n protokol wat in 2019 tussen China en Suid-Afrika onderhandel is nadat Suid-Afrika sy bek-en-klouseervrye status verloor het. Ingevolge die protokol moes die bedryf die nodige maatreëls tref om te verseker dit is veilig om vetwol tydens ’n bek-en-klouseeruitbreking uit te voer.
“Die protokol moes die veiligheid van wolhandel verseker wanneer biosekerheid in gevaar is. Die maatreëls moes vertrou word om enige risiko weens ’n bek-en-klouseeruitbreking uit die weg te ruim,” sê Agbiz.
Nagenoeg 80% van Suid-Afrika se wol word na China uitgevoer, met ongeveer 8 000 produsente en 40 000 kommunale produsente wat deur die verbod geraak word. Suid-Afrika produseer jaarliks nagenoeg 42 miljoen kilogram wol, met die woluitvoerbedryf wat ongeveer R1 miljard werd is.
“Die verbod op wol wat in die vorige seisoen geskeer is, sou onomkeerbare skade aan die wolbedryf veroorsaak het, aangesien vanjaar se skeertyd in volle gang is. Dit sou beteken die bedryf sou verliese oor twee seisoene gely het,” sê Didiza.